Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 24 MEI 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van Melvyn Slater, ZS5MF, op 19 Mei stil geword het. Aan sy eggenote Heila, ander familie en vriende, betuig ons ons innige simpatie.

(POUSE)

In die nuus vandag:

ZS4 NAELLOOP VANMIDDAG

PRESIDENTSNET VANAAND

KOMPETISIE OM NUWE 40 METER UITBREIDING TE VIER

NEGEJARIGE ONTVANG DIE “WORKED ALL ZS”-TOEKENNING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

ZS4 NAELLOOP VANMIDDAG

Vanmiddag vanaf 16:00 tot 17:00 SAT sal die ZS4-Naelloop op die 40 meterband die lug wees op. Daar sal GG- en foonaktiwiteit wees met oorgenoeg geleentheid om stasies in die Vrystaat te werk vir die “Worked All ZS”- en “Chasing Maidens“-toekennings. Stasies in die Vrystaat sal ‘n RS(T)-verslag en hulle dorpnaam of afkorting uitruil, terwyl ander stasies ‘n RS(T)-verslag en hulle provinsiale afkorting uitruil. Kontakte met stasies in die Vrystaat tel twee punte, terwyl kontakte met ZS4BFN, ZS4B en ZS4SRK 5 elk punte werd is. ZS4AFV is ‘n wilde kaart!
Die sluitingsdatum vir logstate is Maandag 8 Junie en kan per e-pos gestuur word aan rmschoeman@telkomsa.net of per slakkepos na die Sasolburg Amateurradioklub, ZS4SRK, Posbus 3493, Vanderbijlpark, 1911. Kry die volledige reels in die SARL-Kompetisieboek.

PRESIDENTSNET VANAAND OM DIE SAMEWERKING TUSSEN KLUBS EN DIE SARL TE BESPREEK

Tydens die Algemene Jaarvergadering is ‘n mosie van die Durban Amateurradioklub aanvaar waarin gevra word dat die samewerking tussen die SARL en Klubs verbeter word. Die mosie het geen voorstelle hoe om dit te bewerkstellig bevat nie en ‘n voorstel is aanvaar dat dit tydens ‘n toekomstige Presidentsnet bespreek sal word.
Hierdie Presidentsnet vind vanaand om 19:30 SAT plaas. ‘n Uitnodiging aan klubs om aan die bespreking deel te neem is in die SARL-brief wat verlede Maandag aan lede van klubkomitees gestuur is, ingesluit, en enige lid mag ook deelneem.
Die Presidentsnet sal om 19:30 SAT op die lug wees. Klubs word genooi om ‘n versoek te rig om hulle herhalers aan die konferensiebrug te koppel deur ‘n e-pos voor 12:00 vanmiddag aan armi@sarl.org.za te stuur. Verskaf asseblief die telefoonnommer wat gekoppel moet word. Slegs Telkomlandlyne kan gekoppel word. Selfone en voorafbetaalde landlyne kan nie gekoppel word nie.

KOMPETISIE TER VIERING VAN DIE NUWE 40 METER-TOEKENNING SODRA DIT WETTIG IS

Die Boland Amateurradioklub reel ‘n kompetsie ter viering van die uitbreiding van die 40 meterband wanner dit uiteindelik aangekondig sal word. Dit sal op die eerste Sondag nadat die toekenning in die Staatskoerant gepubliseer is, gehou word.
Die publikasie van die gewysigde regulasies in die Staatskoerant is weer uitgestel omdat die OKOSA-Raad nie soos verwag was op Dinsdag vergader het nie. Aanduidings is dat die OKOSARaad eerskomende Dinsdag sal vergader. Soos aangedui in vorige SARL-Nuusbulletins, sal inligting beskikbaar gestel word op die SARL webwerf soos dit ontvang word.
Die Bolandkompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suider-Afrika. Slegs kontakte in die nuwe ESB-kompetisieseksie tussen 7 130 - 7 200 kHz sal tel. Die kompetisie sal vanaf 14:00 - 16:00 SAT op die lug wees. ‘n RS-verslag en u poskode word uitgeruil. Die puntetelling is soos volg : 1 punt vir elke kontak en 5 punte vir ‘n kontak met ZS1BAK. Logs kan per gewone pos of e-pos gestuur word en moet die komitee binne 15 dae na die kompetisie bereik. Die e-posadres is zs1bak@bark.org.za en die posadres is Posbus 273, Strand, 7139. Sertifikate sal toegeken word aan die drie stasies wat die hoogste tellings aanteken.
Hou www.sarl.org.za dop vir die aankondiging waneer die nuwe regulasies in die Staaskoerant gepubliseer word. Intussen, kry u stasie gereed om te kan deelneem.

DURBAN IS GEREED VIR DIE 2009 RTA OP SATERDAG

Die 2009 SARL Radiotegnologie-in-Aksie-simposium word op Saterdag 30 Mei 2009 by die Skool vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese, Universiteit van KwaZulu-Natal, Koning George V laan in Durban gehou.
Die RTA begin om 08:30 met ‘n program van lesings en demonstrasies gemik op radioamateurs en belangstellendes in wetenskap. Die simposium is oop vir die publiek. Bring u vriende saam, dit is ‘n gulde geleentheid om hulle bekend te stel aan amateurradio en al sy aktiwiteite. Die koste is R30 per persoon en word by die deur betaal. Vir leerders en studente is toegang gratis.
Die volle program is beskikbaar op www.sarl.org.za of stuur ‘n e-pos met RTA Durban in die onderwerplyn aan armi@sarl.org.za en ‘n PDF-weergawe sal aan u gepos word.

NEGEJARIGE ONTVANG DIE “WORKED ALL ZS”-TOEKENNING

Melinda Mynhardt, ZU6MM, ‘n jonge dame van 9 het haar eie “Worked All ZS”- toekenning ontvang. Melinda het beslis ‘n uitdaging aan haar seniors gerig om aan die werk te spring en hulle WAZS-toekennings te verower. Gaan u hierdie uitdaging aanvaar?
Baie geluk Melinda! SARL-Nuus hoop hierdie is die eerste van vele toekennings wat jy gaan ontvang.

KOMPETISIENUUS

Gedurende Junie kan u deelneem aab die SARL-Jeugdagnaelloop op 16 Junie, die Węreld QRP-dag op 17 Junie, die SARL 160 meter QSO-Geselligheid op die lug vanaf 17 to 21 Junie en die SARL Digitale kompetisie op 28 Junie.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Verlede week se klein sonvlekkie het nie lank oorleef nie en tans is daar geen "amptelike" sonvlekke nie. Sonvleksiklus 24 sal na verwagting sy piek gedurende Mei 2013 bereik. Begin solank dink aan antennas vir 10 m en 6 m!
Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionsofeer bereik is met die seisoensverandering besig om af te neem. Dit het 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees. Langpadpropagasie na die VSA is ook moontlik. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die geraasvlakke agv. Statiese ontladings nog bietjie hoog, wat uitdagings bied.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag - ZS4-naelloop van 16:00 tot 17:00 en die Presidentsnet om 17:30;
26 Mei - Sandtonklub se tegniese vergadering by die NARS;
30 Mei - ZS6PTA Megavlooimark en RTA in Kwazulu-Natal;
8 Junie – Sluitingsdatum vir ZS4 naelloop logstate;
16 Junie – Jeugdagnaelloop;
17 Junie- Węreld QRP-dag;
17 tot 21 Junie – SARL 160 m QSO-gesellingheid;
28 Junie – Digitale kompetisie.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan. Moet asb. nie nuusberigte aan die Administratiewe Beampte of direk aan een van die bulletinsamestellers stuur nie, dit verhoog net die moontlikheid dat u berig dalk nie in ‘n bulletin ingesluit mag word nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n “Podcast”-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel is en deur George, ZS6NE, taalversorg is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003